Resensies

Wat sê ons ouers / kliënte?
Mamma / Arbeidsterapeut
Read More
As 'n eerste-keer-Mamma het ek en my seuntjie Minimense vreeslik geniet. Die verskillende "stasies" was elke week ' n hoogtepunt en iets om na uit te sien. Nie net was daar verskeie sensoriese ervarings nie, maar alledaagse huishoudelike items en herwinbare produkte is onder andere gebruik om ontwikkeling te steun. Dit het my baie idees gegee en inspireer om tuis verder lekker te gaan speel (sonder duur speelgoed). Verskeie apparate is gebruik vir grof motoriese en fyn motoriese ontwikkeling wat gesorg het dat die kinders nuuskierig en leergierig bly. As Mamma het ek die gesels met die ander mammas en Mamma-kind-begeleier baie geniet. Ons kon by mekaar leer en mekaar ondersteun — dit het dit ekstra spesiaal gemaak. Alhoewel ek wel bekend was met Minimense was dit 'n heel ander ervaring met my dogtertjie. Sy het die aktiwiteite op haar unieke manier beleef wat dit weer vars en interessant gemaak het. Dit was ook baie lekker om weer nuwe mammas te leer ken. Mininense is beslis iets wat elke Mamma haar en haar kind mee moet bederf
Gelukkige Mamma
Read More
Groot waardering vir die Mini-Mense Program Ek het die voorreg gehad om met ons tweede seuntjie hom te kon inskryf by Juffrou Marié se Mini-Mense. Wat ’n wonderlike program is dit nie! Die feit dat Juffrou Marié ’n gekwalifiseerde Grondslagfase-juffrou is, met meer as 15 jaar ervaring, is ’n ONGELOOFLIKE voordeel. Sy hardloop met hierdie program en voeg nog meer waarde toe as wat hierdie program reeds bied. Sy is ’n mens wat verseker die ekstra myl loop in alles wat sy doen, en die netjies uitgepakte en goed voorbereide klassies elke liewe keer wat jy daar instap, getuig daarvan. Haar beplanning is deeglik en elke klas bou voort op die vorige les, wat die sukses daarvan verseker. Hierdie program en Juffrou Marié se Mini-Mense-klassies bou die fondasie waarop effektiewe leer, veral in die Grondslagfase, gebou word. Die voorkennis wat ons kinders hier opdoen, reeds vóór skool, kan niemand van hulle wegneem nie en dit verskaf hulle beslis met ’n voorsprong wanneer hulle die kleuterskool en daarna die laerskool betree. Ons seuntjie kan nie wag om Donderdae by sy Mini-Mense-klasse “skool toe te gaan” nie. Dit is verseker die hoogtepunt van sy week. Hier word hy blootgestel aan ongelooflik verrykende aktiwiteite, ’n gestruktureerde klasomgewing, sosiale interaksie met maats en ’n juffrou na wie hy moet leer luister. Ek kan net dink hoeveel makliker die aanpassing na die kleuterskool, sowel as “grootskool”, sal wees danksy hierdie Mini-Mense-klasse. Ek wens elke liewe mamma kon die geleentheid kry om hul kinders deur Juffrou Marié en haar klassies te laat verryk word! Dit is verseker vir ons en ons seuntjie ’n voorreg. Dankie, liefste Juffrou Marié! Jy is goud werd!! 🤍🌿
Michelle Stofberg
Read More
Dit was ‘n voorreg om MiniMense saam met my twee kinders te kon doen. Dit is voorwaar ‘n belegging wat mens maak in jou kind se lewe. MiniMense het my kinders holisties ontwikkel en gestimuleer, spelenderwys, op hulle vlak. Elke kind word ontmoet op hulle unieke vlak van ontwikkeling en daar is soveel ruimte vir verryking en uitbreiding met elke aktiwiteit. Dis beslis ‘n wenresep. As kleuterskool onderwyseres kan ek hierdie program hoog aanbeveel. Ons maats moet speel – dis die heel beste manier om te leer. MiniMense se fyn beplande lesse skep goue leer geleenthede, waar kinders deur ontdekking en eksperimente leer. Beweging, musiek, kuns, grootmotoriese en fynmotoriese aktiwiteite is deel van elke les. Die warm, liefdevolle atmosfeer skep ‘n veilige plek waar die kind gemaklik voel om te probeer en dit help bou aan sy/haar selfvertroue wat hul nodig het vir formele skool. MiniMense is die perfekte geleentheid om jou kind ‘n goeie voorsprong te gee. Maar meer as dit, belê in TYD saam met jou kind. Michelle Stofberg (Kleuterskool onderwyseres, BEd Grondslagfase)
Maritza
Read More
Minimense is wonderlik vir my seuntjie! Ek kan sien hoe hy gegroei het in sy vaardighede en in die manier waarop hy sy emosies uitdruk. Ons het gegaan van ’n seuntjie wat glad nie sy hande wou vuil maak of wou verf nie — tot een wat nou uit sy eie belangstelling toon in verf, en sommer ook met slakke, wurms en skilpaaie wil speel! Hy is regtig tuis by Minimense — by die Mamma’s, Oumas, Tannies en soms selfs ’n Ou Pappa ook. 💛 Ek sien elke dag hoe sy vriendelikheid, selfvertroue en sagte geaardheid deur hul speelse leer groei en ontwikkel. Minimense het ook vir my, as Mamma van ’n woelige en soms oorweldigende seuntjie, só baie beteken. My gehelp om my kind se behoeftes beter te verstaan — en om te besef ek is nie alleen nie. En soms, net soms, wanneer mens voel jy wil huil, is Minimense sommer soos ’n gratis sielkundige sessie in buite-speeltyd. 🤍🌿
Trotse Mamma
Read More
Die Minimens-program bied ’n uitstekende, holistiese ontwikkelingsplatform vir jong kinders. Die program skep ’n stimulerende leeromgewing waar elke kind deur spel, beweging en ontdekking op ’n natuurlike manier leer en groei. Leer vind plaas deur konkrete, prettige ervarings, wat kinders se kognitiewe, fisieke, sosiale en emosionele ontwikkeling op ’n geïntegreerde manier bevorder. ’n Wye reeks vaardighede word doelbewus ontwikkel, insluitend: * Fynmotoriese vaardighede – aktiwiteite soos knip, bou, ryg en teken versterk handspiere en berei kinders voor vir skryfwerk. * Grootmotoriese vaardighede – spring, klim en balspel verbeter spiertonus, balans en liggaamsbeheer. * Koördinasie – oefeninge wat hand-oog- en voet-oogkoördinasie versterk, bevorder presisie en selfvertroue. * Middellynkruising – bewegings oor die liggaamslyn help met brein-integrasie, fokus en skoolgereedheid. * Ritme en balans – dans, musiek en bewegingspeletjies dra by tot liggaamsbewustheid en ritmiese ontwikkeling. Die program se buite-speel en multi-sensoriese aktiwiteite maak leer dinamies en betekenisvol. Kinders kry waardevolle blootstelling aan verskillende leerareas soos Afrikaans, Wiskunde, kreatiewe denke en probleemoplossing. Elke kind word op sy of haar eie vlak ondersteun om selfstandig, nuuskierig en gebalanseerd te ontwikkel. Minimens lê ’n sterk grondslag vir Graad O en help om leerders met selfvertroue en lewenslus skool toe te stuur. Enige opvoeder sal bevestig dat ’n kind wat deur Minimense is, uitstekend voorbereid is — met goeie skoolgereedheid, sosiale vaardighede en ’n positiewe leerhouding. Vir ouers bring dit groot gemoedsrus om te weet hul kind het die beste moontlike begin en ’n opvoeding ontvang wat die heel kind ontwikkel. Die juffrou by Caledon Mini-Mens is ‘n gekwalifiseerde Juffrou met jare se ervaring wat hierdie pakket net in die volgende vlak sit. Haar energie en liefde vir die kinders en haar uitstekende kennis maak dit ‘n wenresep!
Previous
Next
Spelende ouers het gelukkige kinders.

Robertson | Mcgregor | Bonnievale | Worcester | Caledon